Home 5 News 5 Wat ‘n suksesvolle SES vir sakebedrywighede in Atlantis kan beteken

4 July 2019

English version here

IsiXhosa version here.

Daar word beraam dat daar teen 2030 $90 triljoen se investering in die globale groen ekonomie sal wees. Die Atlantis Spesiale Ekonomiese Sone (SES) vir Groen Tegnologieë, wat in Desember 2018 deur pres. Cyril Ramaphosa geloods is, beoog om hierdie geleentheid te benut deur buitelandse en binnelandse beleggings te lok wat tot werkskepping en ontwikkeling van die plaaslike ekonomie sal lei.

SES’e regoor die wêreld ​​kom voor geweldige uitdagings te staan, en ongelukkig is talle van hulle nie suksesvol nie. ‘n Suksesvolle Atlantis SES kan egter teen 2030 beleggings van R3,7 miljard lok en 3 000 werksgeleenthede skep. Tot dusver het die sone reeds R700 miljoen se beleggings gelok en 312 werksgeleenthede geskep.

Vir sakeondernemings in Atlantis wat buite die sone werksaam is, sal ‘n suksesvolle en florerende SES ‘n aantal regstreekse voordele inhou.

Een voordeel is die ontwikkeling van plaaslike infrastruktuur (soos paaie, elektrisiteitsnetwerke en internetverbindings). In Atlantis het die voorbereiding van die ondersteunende infrastruktuur vir die gebied en Atlantis Industria deur die Stad Kaapstad reeds gelei tot ‘n verbetering in elektrisiteitsvoorsiening, breëband (deur ‘n glasveselnetwerk) en die openbare vervoerstelsel (deur die MyCiti-bus stelsel).

‘n Suksesvolle SES sal ook voortgesette en groeiende beleggings in plaaslike ondernemings- en vaardigheidsontwikkelingsprogramme meebring. Die voorgestelde plan vir die SES sluit in volgehoue ​​ondersteuning vir belowende nuwe ondernemings, opleiding in gespesialiseerde velde, en voortgesette werk onder jong mense in Atlantis om hulle voor te berei om die geleenthede wat deur die SES gebied word, te benut. Tot dusver het meer as 700 jongmense deelgeneem aan ‘n verskeidenheid programme in jeugvaardigheidsontwikkeling (soos die Ikamva Jeugonderrigprogram, die Atlantis Hernubare Energie-Uitdaging en die Loopbaanuitstalling).

Internasionale beleggers wat vervaardigingsaanlegte in die SES op die been bring, bied ‘n potensiële voordeel aan sommige ondernemings, naamlik die geleentheid om by wêreldwye waardekettings aan te sluit. Vir Atlantis-ondernemings wat goedere of dienste in hierdie waardekettings verskaf, sal ‘n suksesvolle SES ‘n voertuig wees wat hulle kan help om struikelblokke op die weg van groei en internasionalisering te oorkom. Atlantis-ondernemings kan byvoorbeeld besighede wat sake in die SES bedryf, regstreeks van plaaslik-vervaardigde of ingevoerde goedere en dienste voorsien.

Om hierdie toekomstige geleentheid te benut, sal ondernemings so moet ontwikkel dat hulle mededingend kan wees, met aantreklike pryse, gehalte en dienste-aanbiedinge om vir versoeke om voorstelle van sodanige beleggers ontvanklik te kan wees.

Hoe sal sakeondernemings geleenthede in die sone kan benut?

Geleenthede in die sone sal onder meer die volgende behels:

1. Word ‘n SES-belegger en trek voordeel uit die nasionale SES-aansporings. Dit sal tot die beskikking wees van besighede wat aansoek doen met ‘n nuwe onderneming of uitbreiding in groen tegnologie. Meer inligting oor hoe om te werk te gaan, is hier beskikbaar.
2. Word ‘n leweransier of diensteverskaffer aan beleggers in die sone. Beleggers in die sone sal verskillende insette en dienste benodig wat hulle direk van die mark kan verkry.
3. Word ‘n diensteverskaffer aan die bestuur en werksaamhede van die SES self. Die ontwikkeling en bedryf van ‘n SES sal verskeie ondersteuningsdienste benodig wat die uiteindelike SES-bedryfsentiteit regstreeks sal verkry.

Ooreenkomstig die beoogde SES-plan, moet inligting oor tenders en verkryging deur middel van ‘n aantal verskillende kanale beskikbaar gestel word om billike en gelyke toegang tot geleenthede te verseker. Tans word tenders en verkrygingsgeleenthede deur middel van resgtreekse kanale gedeel, met beplanning om ‘n aanlynportaal vir geleenthede te skep en om geleenthede, inligting en nuus deur middel van e-pos en sosiale media te kommunikeer.

SES-beleggers, die bestuur van die Atlantis SES, en enige verwante entiteite volg tans hul eie gepaste prosesse vir regstreekse verkryging. Dit kan beteken dat tenders aanlyn op ‘n spesifieke entiteit se webwerf en/of deur ‘n tenderportaal geplaas word, soos ‘n onlangse tender wat deur Wesgro gedeel word. Wesgro is deur die Provinsiale Regering gemagtig om die Atlantis SES-bestuursentiteit op te rig.

In November 2018 het ‘n gemeenskapswerkswinkel oor ondernemingsontwikkeling die kollig laat val op die begeerte om ‘n aanlynportaal beskikbaar te stel. Dit sal verseker dat belanghebbendes altyd toegang tot die jongste inligting en geleenthede byderhand het, en oor die vermoë beskik om SES-verwante inligting te hersien. Dit is ingesluit in die voorgestelde plan vir implementering deur die SES.

Die rol van die Atlantis SES Gemeenskapsbelangegroepnetwerk (ASES-GBN)

Die ASES-GBN se belangrikste rol is om die behoeftes en belange van die gemeenskap en besighede in aangeleenthede betreffende die Atlantis SES te verteenwoordig, en om as kommunikasiekanaal tussen die Atlantis SES en die plaaslike gemeenskap te dien.

Die lede van die ASES-GBN word op 18 Julie 2019 aan die gemeenskap bekend gestel. Hulle sal maatreëls wat deur die ASES verskaf word wat die gemeenskap raak, monitor om te verseker dat daar geleenthede vir die gemeenskap is, insluitend toegang tot opleiding, ondernemingsontwikkeling en indiensneming.

Wat staan plaaslike sake-ondernemings volgende te doen?

Sake-ondernemings wat in geleenthede belangstel, word aangemoedig om die Wesgro-webwerf, onafhanklike tenderportale en die tussentydse SES-webblad gereeld na te gaan. Hulle moet ook op die Wes-Kaapse Regering se Verskaffersdatabasis en die sentrale verskaffersdatabasis registreer.

Vir meer inligting oor die komende gemeenskapsvergadering op 18 Julie, tree asseblief in verbinding met Charlotte Perang by [email protected].